Rom 12:4-6 "Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het."
Sunday, March 28, 2010
Karnaval - Afkondiginge (Sondag) 28/03/2010
Karnaval…
- Dankie aan almal wat besig is om hard te werk ter voorbereiding.
- Dankie by voorbaat aan diegene wat op die dag gaan help om dinge aangebied en hanteer te kry.
- Die saal word Donderdagmiddag voorberei. Praat met Jannie as jy dalk kan help in die proses.
- Arrie Viviers saal word Vrydagmiddag gereed gemaak. Ook hierin sal hulp welkom wees.
- Kom ons soek werklik die Here se aangesig in die hantering en aanbieding van hierdie saak.
Saturday, March 27, 2010
Gemeentefees - Naweek program
Die 50 ste Feesviering waar na ons so uitgesien het, het gekom en gegaan. Dit was `n besonderse naweek met pragtige blomme deur die kerk, `n heerlike ete, `n spesiale Feesdiens die Sondag oggend en `n gesellige tee om mee af te sluit.
Alle lof en dank aan ons Hemelse Vader wat ons, Sy kerk, so ryklik seën, bewaar en behou.
Vroue Aande Feb - Maart
Die vroue-aande het in Februarie weer afgeskop met `n prettige byeenkoms by die Elephant Coast Hotel in St. Lucia. Die tema was liefde en dit het gegaan oor God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar. Cindy Ann Dubell het ons gewys hoe om potloodliefdediertjies met wonderklei te maak en skielik was ons al almal weer kinders vir `n uur of twee. Daar was lekker "wraps" gevul met ham, kaas en slaai en Sonja het gesorg vir kleinkoekies versier met hartjies.
In Maart het ons by die anneks bymekaar gekom en Martie Joubert het `n stukkie gelees oor olifante. Sy het verduidelik hoe `n olifant se kenmerke jou kan help om op `n meer insiggewende wyse die Bybel deur te lees. Ons het elkeen ons eie koffiebeker met `n olifantprentjie daarop gedecoupage. Daar was ook `n heerlike pastagereg met slaai en nagereg. Geheime vriendinne is bekendgemaak en nuwes getrek. Maak seker dat jy die volgende byeenkoms in Mei nie misloop nie! - Mariè Stubbe
Nuusbrief - Maart 2010 (Volume 18)
NG KERK MTUBATUBA
NUUSBRIEF
Maart 2010 Volume 18
Liewe Gemeente
Die eerste drie maande van 2010 is iets van die verlede. Die 50ste Feesviering waarna ons so uitgesien het, het gekom en gegaan. Dit was `n besonderse naweek met pragtige blomme deur die kerk, `n heerlike ete, `n spesiale Feesdiens die Sondag oggend en `n gesellige tee om mee af te sluit.
Vier van die vorige leraars was hier om saam fees te vier. Oudgemeentelede het van ver af spesiaal gekom vir die goue geleentheid en daar is heerlik saamgekuier.
Alle lof en dank aan ons Hemelse Vader wat ons, Sy kerk, so ryklik seën, bewaar en behou.
Nou kyk ons vorentoe na Paasnaweek en die karnaval. Die reëlings vir die karnaval is al goed op dreef en almal se hulp word waardeer. Skakel die kerkkantoor of die sameroepers om te hoor waar jy kan help.
Ons wens almal `n geseënde Paasfees toe en bid dat die betekenis van Paasfees hierdie jaar vir elke gemeentelid 'n werklikheid sal wees.
Die Redaksie
UIT DIE PASTORIE
Die groot gat!
Ons is op pad skool toe. Eers moes ons sorg dat alles in is, skoolsak, koelhouer en sak met sportklere. Amber dink aan 'n nuwe maatjie. Oupa sê sy: "Ek weet waar die nuwe maatjie se huis is." Ek het nie geweet daar is iemand nuut in die dorp nie, maar vra hoflik: "Vertel my..." "Waar is dit?". "Oupa weet mos waar tannie Anwyn bly". Natuurlik weet ek. "Oupa dit is nie in daardie straat nie, maar op pad daarheen. Oupa weet, dit is die huis net langs die groot gat."
Ons as kinders het ook verwysingspunte gehad: die huis anderkant om Errie se winkel, of duskant die "garage" (... daar was nie motorhawens nie), langs Groot Giel se huis. Ek kan nie dink dat ons ooit nodig gehad het om 'n gat in die pad te gebruik as verwysingspunt nie. As kinders dit dan gebruik as verwysingspunt moet dit inderdaad opvallend wees, en des te meer iets waarvoor mense agter stuurwiele moet oppas, natuurlik nie net vir die groot gate nie, maar vir die minder grotes, die wat in die skaduwee van die boom half onsigbaar weggesteek is. Die wat in die skaduwee gehul is, vang 'n mens sleg veral as daar 'n voertuig van voor af kom en jy nie ver genoeg kan wegswenk nie. Die skade aan wielsporings en bande is erg. Daar was selfs al voertuie wat die pad verlaat en omgeslaan het, en dit alles as gevolg van 'n groot gat.
Soms is die padoppervlakte beter, maar dit is net vir 'n tydjie. Ons sal dit skynbaar in ons tyd altyd by ons hê. Is dit nie maar so met die lewe ook nie. Daar is altyd êrens 'n groot gat. Kyk nou maar as 'n mens 'n meevallertjie ontvang het, of dit nou 'n bonus is, of iets van die belastinggaarder, of 'n skenking. Jy sien al die nuwe rekenaar, of skottelgoedwasser, en dan val jy in die groot gat. Met dankbaarheid moet 'n mens opmerk dat die meevallertjie jou darem gewoonlik help om die gat mooitjies toe te maak. Dink aan die lewe in 'n meer geestelike sin. Ek hoor soms mense sê dit kan nie beter gaan nie. Is dit nie wonderlik as iemand dit kan sê nie? In alle opsigte gaan dit dus goed met die self, die kinders, die lewensmaat, die beroepslewe, daar is genoeg kos en klere, daar is genoeg weggebêre, die gesondheid is goed, daar is vreugde in verhoudinge, daar is opregte en innige dankbaarheid voor God, .....en dan die groot gat! Dieselfde mense sukkel nou met iets baie naby aan depressie.
'n Groot rede hoekom 'n mens in die groot gat land is juis omdat dit versteek is, so onder die skaduwee van die bome of net mooitjies aan die anderkant van die opte (hoogte). 'n Mens sou kon sê die geestelike oё sien nie altyd so goed nie. Juis daarom is jy in die gat nog voor jy mooi kon dink. 'n Bril help maar nie sommer enigeen nie. Dit is die Here wat ons oё sodanig aanraak dat ons regtig kan sien en kan onderskei waarop dinge aankom. Dit is in sy nabyheid dat die skadu's lig oor die gate van die lewe. Ek meen die digter het gesê: " U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig vir my pad." (Psalm 119:105)
Wanneer 'n mens nie mooi onderskei het nie, en deur die gat is of binne in die gat geval het met al die skade wat dit jou bring, lê die antwoord ook by die Here, en beslis nie in my eie pogings nie. Ons kan gate tydelik toestop, maar met die eerste storms spring die goed weer oop. Partykeer wonder 'n mens waar is wie ookal heen met al die teer en gruis, want gister nog kon jy daar ry sonder probleem. Vir my lewe is daar net een plek om die gate ewiglik opgevul te kry en dit is in en deur Jesus Christus onse Here. Ja, natuurlik kan ek nog sien waar die gat was, maar ek stamp nie meer daarin nie, dit pla nie meer nie. Ek kan as't ware aanbeweeg. Ek meen dat Paulus ons goeie raad gegee het:
• Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Fil. 4:7)
• Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. (Fil 4:13-14)
• Ek is tot alles in staat deur Hom (Christus) wat my krag gee. (Fil 4:13)
• En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. (Fil 4:19)
Ons het nie nodig om deur gate onder te gaan nie, nie gate van die verlede nie, en ook nie in die hede nie. Ons is immers nuwe mense wat in Jesus Christus helder kan sien in die lig wat Hy voorsien. Saam met 'n Paulus van ouds moet ons blywend bid vir mekaar... "Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispeklik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer". (Fil. 1: 9-11)
Dankie Here dat U naby is, al is daar soms 'n groot gat in die pad! (Fil.4:5)
Groete van huis tot huis.
Frank
50ste FEESVIERING - DANKIE
Derick en Hettie Holman wat die leraars se verblyf voorsien het.
Ds Frank, Dumsane, Mariè, Sias, Jos, Barry asook Sias se pa en ma wat gehelp het om die terrein gereed te kry.
Ina, Antoinette, Liz, Alet, Sharmin Pillay, Joan Kirkland, Susan en haar ma, Cora de Beer en Anette wat blomme rangskik het asook Hannatjie en haar ma vir die verversings.
Corney wat die pragtige nuwe kanselkleed gemaak het en Marius Adendorff wat die loodglas ligboks gemaak het.
Gerrie van Rooyen wat gesorg het dat alles perfek teen die mure opgehang word.
Sarie en haar span wat 360 viskoekies vir die voorgereg gebak het asook Anette en Corney wat 360 hartvormige wafels gebak het.
Theresa van Thyme Square vir die hoofgereg; Cobus Swanepoel wat die water verskaf het; Lea en haar span wat die pons gemaak en die tafels bedien het; Magda, Corney, Susan, Nelia, Riana en Anette wat in die kombuis gewerk het; asook van die gemeente dames wat as gasvrouens opgetree het.
Almal wat gehelp het met die opruiming na afloop van die fees; Lea en haar span, die vroue wat in die kombuis gehelp het, Riaan, Marzanne, Xander, Ds Frank, Frankie en Zelda.
Johan wat seremoniemeester was – veral ook vir die twee liedjies wat hy spesiaal geskryf en ook gesing het. Die lied " Dankie vir 50 jaar " is so mooi dat ons dit elke Sondag wil sing.
Louis wat Sondag in die kerk pragtig klavier gespeel het.
Die dames wat gesorg het vir `n heerlike tee na afloop van die erediens. Daar was selfs 'n koek in die vorm van `n 50.
Frankie en Zelda vir die hulp tydens die voorbereidings en opruiming.
Die Feeskomitee
PAASFEES –
Lux Mundi NG Gemeente
Waaraan dink jy wanneer jy aan die herfs dink? Seker nie aan skoonmaak nie! En tog is skoonmaak so tradisioneel soos paaseiers en paashase. Net soos ons Kerstradisie, is die tradisies van Paasfees leeg en betekenisloos as dit nie wys na Jesus Christus nie – die een wat opgestaan en die engele laat uitroep het: "Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het" (Matt 28:6).
Hoe het die groot paasskoonmaak 'n tradisie geword? Elke jaar vier die Jode Paasfees in herinnering aan God wat hulle uit slawerny verlos het. Paasfees wys terug na die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van elke huis gesmeer is sodat God se kinders veilig kon wees wanneer Hy verby sou kom om die eerstelinge van die Egiptenare dood te maak.
Paasfees simboliseer ook die tyd toe die Lam van God moes sterf om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29). Lees God se spesifieke instruksies in Eksodus 12:1-15. Sien hoe sy volk vir hierdie fees moes voorberei, hoe hulle moes eet en feesvier.
Na Paasfees mag daar sewe dae lank geen gis in 'n Joodse huis wees nie. In die Bybel is gis simbolies van sonde. Die wegneem van alle gis uit die huis, was simbolies van die sonde wat uit jou hart weggeneem moet word. Die beste manier om elke bietjie gis uit die huis te verwyder, was deur die huis van bo tot onder skoon te maak.
En die taak het ook 'n ander skoonmaak uitgebeeld – die van jou HART. "....en reinig die bloed van Jesus, Sy Seun, ons van elke sonde" (1 Joh 1:7) Wanneer julle hierdie jaar julle HARTE skoonmaak, gooi sommer alles uit wat God nie eer nie.
Begin hierdie jaar unieke tradisies in jou huis wat iets vasvang van die ware boodskap van Paasfees.
Wat kan ons hierdie Paasfees doen om dit meer spesiaal te maak ?
• Maak kaartjies wat die gesin vir vriende en familie kan stuur. Versier dit met kruise ens. en skryf 'n gepaste teksvers of boodskap binne-in.
• Maak houtkruise wat in die huis kan staan of by die voordeur opgehang kan word. Mosaïekkruise is treffend en maklik om te maak.
• Maak "loodglasvensters". Gebruik prente met duidelike buitelyne bv. 'n kruis met 'n klomp patrone of blokke rondom.
• Gebruik pottebakkersklei. Maak 'n koppie wat Golgota voorstel. Plant drie kruise in. Maak nou ook uit pottebakkersklei die leë graf met 'n stuk lap binne en die klip wat weggerol is.
• Bak suikerkoekies in die vorm van kruise.
• Maak versierings met 'n boodskap om in jou huis te hang:
- Kruise
- Krone: Jesus is my Koning.
- Wit harte: Hy sterf aan die kruis om jou en my lewe skoon te maak van sonde.
- Groen takkies: Impliseer lewe - Hy gee vir jou die ewige lewe as jy kies om Sy kind te wees.
- Wit lappe: Die graf is leeg!
Kom ons herinner onsself dié jaar aan die ware rede vir hierdie FEES op ons Christelike kalender!
50 ste FEESVIERING
Dit is so min wat mense die geleentheid kry om saam aan so 'n kosbare geleentheid te beplan en te werk. Soveel kere is die dag daar voordat jy behoorlik tyd gehad het om als te doen soos jy graag sou wou en dan is die dag ook net so vinnig verby en wens jy jy kon die horlosie stadiger laat draai.
Ander kere staan mens verstom oor die lekker van so 'n saamwerk en saamkuier en word die dag op 'n wonderbaarlike manier so deur die Here gevorm dat dit 'n kosbare herinnering word. So was die 50-jarige feesviering vir baie van ons.
Die Saterdag was warm en ongemaklik – soos dit net in Zululand kan word, maar dit het nie afbreek gedoen aan die geesdrif nie – eerder bygedra tot die warm en gemoedelike admosfeer. Dit was lekker om te sien hoe almal opdaag en vriende en kollegas wat mekaar lanklaas gesien het groet en saamkuier asof dit gister was wat hulle afskeid geneem het van die gemeente. ALLES was smaakvol, stylvol en bo alles gesellig!
Sondag was net so 'n besonderse afsluiting vir dié spesiale fees met die blomme, kruise, nuwe kanselkleed en loodglas ligboks daar as sigbare getuie van God se getrouheid deur die jare.
Die nagmaal en gesellige kuier na die erediens was 'n perfekte afsluiting om ons te herinner daaraan dat alles uit God se hand is.
Ons wil in die eerste plek onse Hemelse Vader bedank vir die 50 jaar wat Hy ons kerk gelei en bewaar het, maar ook vir hierdie wonderlike geleentheid waartydens ons dit kon vier.
Baie dankie aan almal wat saamgewerk het om die naweek so spesiaal te maak. Elke bydrae, hoe groot en klein was raakgesien en waardeer. Elders in die nuusbrief lig ons so paar dankies uit met die wete dat ons dalk iemand kan vergeet. Die keer wil ons egter nie stilbly vir in geval nie…
MIGHTY MEN
KONFERENSIE - 2010
Die laaste Mightly Men konferensie word van 16 - 18 April 2010 aangebied deur Angus Buchan op sy plaas Shalom, naby Greytown.
Hierdie is dalk net die geleenthied wat jy nodig het om vir 'n naweek weg te kom van die gewone gang van die lewe en om kwaliteit tyd te spandeer saam met God. Verlede jaar het 'n klomp manne vanuit ons gemeente die konferensie bygewoon en dit geweldig positief beleef (sien foto onder van 'n klompie "Magtige Manne" van Mtuba Gemeente).
Die konferensie is verniet, maar die koste om te kampeer is R150 per persoon vir die naweek. Indien jy 'n man is, ouer as 12 jaar, en nie wil uitmis op 'n naweek wat jou geestelik sal verryk nie, is jy baie welkom om ons te kontak.
Xander Combrink (082 940 7386)
Jos Badenhorst (082 845 4806)
GREYTOWN – Huis Langenhoven
Ons is hierdie jaar steeds betrokke by Huis Langenhoven met 'n totaal van 15 seuns. Die samestelling van die kinders het egter verander met sommige seuns wat die kinderhuis verlaat het, Ben wat na die hoërskoolhuis geskuif het en 2 nuwe kinders wat ingekom het. Soos in enige gesin was daar aanvanklik aanpassings maar gaan dit nou baie beter.
Die besoek aan Greytown kinderhuis vir die afsluitingsfunksie en kerspartytjie was soos altyd 'n hoogtepunt. Hierdie jaar is egter anders as gewoonlik in die opsig dat ons gemeente nie weer 'n gemeentebesoek van die kinders sal ontvang nie. Ons wil egter graag 'n spesiale besoek aan hulle bring net na die 2010 Wêreldbeker en sal julle op hoogte hou van die reëlings. Dit sal lekker wees as 'n groot groep gemeentelede kan saamgaan!
Huidige behoeftes is bokser-broekies en sportkouse. Dan wil ons ook graag vir die kinders paaslekkernye as spesiale bederf stuur. Kontak asb vir Carmen met enige navrae by 082 319 3494.
KONINGSDAL
Daar is besluit om die betrokkenheid van die individuele gemeentes by Koningsdal te wysig deur 'n groter samewerking tussen die gemeentes. Verdere inligting word egter nog benodig en tot dan bly ons gemeente betrokke op dieselfde wyse as verlede jaar.
Die ATKV tak Mtubatuba het 'n spesiale bydra aan Koningsdal gemaak deur kerspakkies aan al die kinders te skenk wat tydens kersfees in die kinderhuis agtergebly het. Dit het baie kinderhartjies verbly en ons wil dankie sê vir die mooi gebaar.
TUINSIG
Ek het onlangs weer met Celeste by Tuinsig gesels om te hoor hoe dit daar gaan en of daar enige dringende behoeftes is. Sy het weereens die gemeente bedank vir die pragtige kersgeskenke. Die inwoners was baie beïndruk met hulle pragtige sakke wat die vrouens vanuit ons gemeente so sorgvuldig vir Kersfees gevul het. Dankie aan almal wat daarby betrokke was.
Daar is 5 persone in Tuinsig woonstelletjies wat net een maaltyd `n dag by Tuinsig kan bekostig. Dit sal waardeer word as daar vir hulle items soos beskuit, koffie, tee, suiker en miskien Marmite of konfyt voorsien kan word. Dié kan hulle dan vir ontbyt of aandete gebruik. Dit is nie nodig om spesifiek die items te koop en te stuur nie – Celeste het bevestig dat die kantoor dit sal aankoop as geld vir die doel inkom.
Die siekeboeg het `n groot behoefte aan Savlon, tandepaste, tandeborsels, baba-poeier en waslappe. As enige iemand 'n bydra wil lewer of in enige ander opsig kan help skakel gerus vir my.
Met Yvonne Bruce-Alexander gaan dit sommer stukke beter. Ek het Maandag, 22 Maart, by Tuinsig gaan kuier en haar gekry waar sy lekker in die tuin sit en boeklees. Oom Phillip Fourie se gesondheid het ook verbeter, maar Anna was in die hospital en hulle het nog op terugvoering van die dokter gewag.
Hou asseblief ons seniors in julle denke en gebede.
Anette
BYBELVASVRAE
1. Volgens Jes 15 treur die Moabiete oor . . . . . . . en . . . . . . . . .
2. As wat sal die dooies volgens 1 Kor 15 opgewek word?
3. Wie se seuns was oa Bela, Asbel, Egi en Muppim?
4. Wie was Agjo se broer?
5. Wie het dikwels vir Paulus kom opbeur?
6. Hoe sal Jesus volgens Matt 1 genoem word?
7. Wat was Skeva se beroep?
8. Aan watter party het Nikodemus behoort?
9. Watter groot rivier se water het opgedroog om vir die konings uit die ooste 'n pad oop te maak?
10. Wie het vir Dawid in Maganajim beddegoed gebring?
11. Wie was Esegiel se vader?
12. Wie het in 'n wildevyeboom geklim om Jesus beter te kon sien?
13. Wat was die naam van die Romeinse goewerneur van Pafor?
14. Oor hoeveel provinsies het die ryk van koning Ahasveros gestrek?
15. Aan wie rig Lukas sy Christusverhaal?
16. Wie was die vader van Samgar, die derde rigter?
17. Hoeveel keer het Paulus die Jode se gebruiklike straf gekry?
18. Wat was die straf?
19. Watter deel van die beeld in Nebukadneser se droom was van goud gemaak?
20. Wie was koning Agrippa se vrou?
VROUE-AANDE
Die vroue-aande het in Februarie weer afgeskop met `n prettige byeenkoms by die Elephant Coast Hotel in St Lucia.
Die tema was liefde en ons het gepraat oor hoe om 'n vrou na God se hart te wees. Ook hoe om die maand van harte te gebruik om ons te herinner aan God se liefde vir ons en hoe om Sy liefde prakties uit te leef…
Cindy Ann Dubell het ons gewys hoe om potloodliefdesdiertjies met wonderklei te maak. Vir 'n uur of twee het ons almal weer kind geword en die kreatiewe sy kans gegee om na vore te kom en saam te kuier.
Daar was lekker "wraps" gevul met ham, kaas en slaai en kleinkoekies versier met hartjies. Dankie vir almal wat die aand so lekker gemaak het.
In Maart het ons by die anneks bymekaar gekom. Martie Joubert het `n stukkie gelees oor olifante en verduidelik hoe `n olifant se kenmerke jou kan help om op `n meer insiggewende wyse die Bybel deur te lees. Daarna kon elke vrou 'n koffiebeker decoupage met 'n olifantprentjie.
Weer is lekker saamgekuier en het die res van die span vroue wat die aand saam aangebied het gesorg vir 'n heerlike pastagereg, slaai en nagereg.
Geheime vriendinne is bekendgemaak en nuwes getrek. Indien enige iemand nog wil betrokke wees hierby kan Ina by die kerkkantoor gekontak word.
Maak seker dat jy die volgende byeenkoms in Mei nie misloop nie!
Mariè Stubbe
♫☺ VYFTIG JAAR ♫☺
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons is dankbaar, ons is vir so lank gespaar
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons wil U loof, ons wil U prys, God Wonderbaar
Met ons oë, opwaarts na bo, buig ons voor Jesus
Eer Sy naam, lidmate saam, Mtuba gemeente
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons wil U loof, ons wil U prys, God Wonderbaar
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons is dankbaar, ons is vir so lank gespaar
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons wil U loof, ons wil U prys, God Wonderbaar
Ons het gewerk, vir God se kerk, in hierdie geweste
U't ons geseën, deur son en reën, want U is die Beste
Vyftig jaar, dankie vir vyftig jaar
Ons wil U loof, ons wil U prys, God Wonderbaar
BOEKWURM
The Story of Edgar Sawtelle deur David Wroblewski
Dit is 'n pragtige boek wat maklik lees en een van daardie boeke wat jy nie wil neersit nie.
Edgar se ouers is gesogte hondetelers op 'n kleinhoewe in die woude van Wisconsin. Edgar word stom gebore en sy hond, Almondine, word sy skaduwee en dikwels ook sy stem. Edgar praat in gebaretaal wat soms net deur die honde verstaan word.
Hy en sy ma is onafskeidbaar en dan is daar sy idealistiese pa, Gar, wat glo in sy eksklusiewe teelprogramme en deur Edgar bewonder word.
Alles goed en wel tot Gar se broer, Claude op die toneel verskyn. Gar sterf onverwags. Edgar besef sy oom Claude was betrokke by sy pa se dood en vlug met drie honde die woude in.
Die verhouding tussen Edgar en die honde en Edgar en sy ouers roer soms die hartsnare. Die taalgebruik is pragtig en 'n hondewêreld word letterlik oopgeskryf.
Edgar wroeg behoorlik oor die name wat elke werpsel moet kry want soos hy sê word elke hondjie met sy naam gebore en is dit sy plig om die naam te onthul.
Die bos, die pa, ma en seun, en die bose tussenganger, Claude en Edgar se visioene bied oorgenoeg aksie en die boek boei mens tot aan die einde.
KARNAVAL – 3 APRIL 2010
Die Karnaval vind op Saterdag 3 April in St Lucia plaas. Dit is ons hoof fondsinsameling projek en almal se hulp word benodig om dit weer so suksesvol te maak. Dit sal gaaf wees as die vrouens elkeen ten minste een koek of tert vir die koektafel sal bak.
Koektafel : Mariè Stubbe 0832661699
Dit is nou `n gulde geleentheid om ontslae te raak van alles wat net stof opgaar. Dit is verbasend om te ontdek hoeveel onnodige items 'n mens deur die jare bymekaarmaak en as jy dit in die afgelope jaar nie gebruik het nie is dit onwaarskynlik dat jy dit werklik benodig.
Snuffeltafel : Elphia de Lange 0797327883
Behalwe vir die kerk se stalletjies, gaan daar ook baie ander stalletjies by die karnaval wees. Daar sal speletjies en kompetisies wees vir jonk en oud.
Dit is regtig lekker om betrokke te wees, en al kan jy vir net 'n uur of twee werk sal dit waardeer word.
Kerkkantoor: Ina 035 550 1085
SIEN JOU BY DIE KARNAVAL!!!!!!!!!!!!!!!
TE KOOP
Ons wil julle graag daaraan herinner dat die 50jarige FEESBLAD by die kerkkantoor beskikbaar is teen R50 per feesblad.
Foto's wat tydens die geleentheid geneem was kan nog by Ina bestel en betaal word teen R10 per foto.
ANTWOORDE - BYBELVASVRAE
1. Nebo en Medeba (Jesaja 15:2)
2. Onverganklikes (1 Kor 15:52)
3. Benjamin (Gen 46:21)
4. Ussa (2 Sam 6:3)
5. Onesiforus (2Tim 1:16)
6. Immanuel - dit beteken God met ons (Matt 1:23)
7. Priesterhoof (Hand 19:14)
8. Die party van die Fariseers (Joh 3:1)
9. Eufraatrivier (Openb 16:12)
10. Sobi, seun van Nagas (2 Sam 17:27)
11. Busi (Eseg 1:3)
12. Saggeus, die hooftollenaar (Luk 19:2)
13. Sergius Paulus (Hand 13:7)
14. 127 (Est 1:1)
15. Teofilus (Luk 1:1)
16. Anat (Rig 3:31)
17. Vyf keer (2 Kor 11:21)
18. Nege -en -dertig houe (2 Kor 11:21)
19. Die kop (Dan 2:32)
20. Bernice (Hand 25:13)
Karnaval Program
Friday, March 26, 2010
RAAK BETROKKE - Nuusbrief Maart 2010 (Volume 18)
Bybelstudies:
Maandag 18h00 by Xander en Susan
Xander : 035 590 1593
Anette : 035 590 1160
Dinsdag 9h00 by die Anneks
Dinsdag 19h00 by Frik en Rina
Anwyn : 035 550 3060
As jy bereid is om aan te sluit by die ketting of net `n gebedsversoek het.
Ethel : 082 824 4364
Vroueaande:
2de Donderdag van die maand om 18h00
Anette : 035 590 1160
Marié : 083 266 1699
Bak en aflewering een maal `n maand
Ina : 035 550 1085
Ina : 035 550 1085
Faan Kriek : 035 590 1030
Tuinsig Sentrum vir Bejaardes:
Kersetes, kerspakkies, klere
Anette : 035 590 1160
Klere, kerspakkies, kuiernaweke
Ethel : 082 824 4364
Susan : 082 940 7194
Koningsdal:
Klere, kerspakkies, kuiernaweke
Carmen : 082 319 3494
Susan : 082 940 7194
Noodfonds:
Oorgetrekte boks in kerk se voorportaal. Daar is baie mense om ons wat swaarkry en alle nie-bederfbare voedsel is welkom.
Biblia:
Voorbidding, bybels, musse
Riana : 072 204 9431
Subscribe to:
Posts (Atom)