Ons besluit om sommer bietjie langs die kus op te ry na Lambertsbaai en Elandsbaai….ek wou ook graag 'n draai maak by Leipoldtville my geboortedorp, ongelukkig het die tyd dit nie toegelaat nie. Van Doringbaai ry ons toe op die tolpad al langs die spoorlyn en langs die Sishen Saldanha trein met 342 trokke en 10 Lokomotiewe, beslis iets om te aanskou. Dit vertoon soos 'n lang uitgerekte duisendpoot. Die spoed van die pad en die omweё by die brûe maak dat 'n mens nie die trein lekker kan inhaal nie. Ons is so gefassineer deur die besonder lang trein en probeer so hard om by die voorpunt te kom, terwyl ons redeneer of die trein 'n masjinis het of nie, dat ons byna die draai in die pad mis en saam met die trein onder die oorgang deurgaan.
Aanvanklik ry ons verby Lambertsbaai en gaan maak eers 'n draai by Elandsbaai. Dit is hier dat die heimweё my tref, vreemd so ongenooid. Ek onthou hoe my pa, ons geneem het om op die wit strand van Elandsbaai wit mossels uit te haal. Daardie tyd was daar nie al die beperkings nie, en pa het dit dan verwerk en gebottel as aas. Die haal van die aas was die voorspel tot die latere hengel. My pa het 'n "Penn" katrol gehad en 'n ellelange stok wat hy met ervaring hanteer het(Dalk het die stok ook langer vertoon omdat ek self klein was!). As ek vandag terug dink, weet ek dat ek hom bewonder het vir die manier waarop hy die stok hanteer het en die feit dat hy werklik visgevang het en nie maar net gehengel het nie. Ek weet ook nie van een keer wat ek gesien het dat hy sterk drank of bier by hom gehad het teen die koue nie. Ek ry tot by die punt en sien die rotse waar ek en my broer en suster gespeel het, en waar ons klipvis gevang het.
Vir ons is die omgewing mooi, die weerspieёling van bome op die water van "vloorvlei" (verlorenvallei) is ongelooflik mooi. Verskeie watervoёls is sigbaar, en ons hoor hulle na mekaar roep...'n soort vrede kom lê diep in ons. Die tyd raak min en ons ry verby die afdraai na Leipoldtville en kiess weer koers na Lambertsbaai. Hier het ons soms vakansie gehou. Pa het nie juis baie vakansie gehou nie, selfs al het hy vakansie gehad, want daar is sy hoenders en varke wat moet kos kry, die hond moet versorg word, die tuin moet natgemaak word ens. Ma moes genoeё neem. By alles het hy ook gesorg dat die kerkgebou en die skool skoongemaak word. Dus, ons het meesal na Lambertsbaai gegaan vir 'n week of wat. 'n Motorhuis omskep tot 'n ripe woonstel het gedien as blyplek. Gordyne is gebruik om afskortings teweeg te bring en vertrekke daar te stel. Met die aardbewing destyds by Tulbagh was ons juis daar en het die kasdeure oop en toe gegaan asof vanself. Dit is hier waar ek en my maats op 'n bakkie om die punt gevaar en kreef probeer vang het, dit is ook hier waar ek 'n vriendiinnetjie gehad het vir wie ek met die fiets van Leipoldtville kom kuier het. In 'n sekere sin lyk dit asof die tyd stil gestaan het.....van die plekke lyk dieselfde, en tog is daar ook verandering. Die tolpad is deel van die groei en verandering en so ook geboue en huise wat nie in my kinderjare daar was nie. Sommige besighede bestaan nie meer nie, onder andere die kafee waat ons snoeker gespeel het. Ander besighede bestaan in ander fromaat. Die visfabriek hanteer nie meer vis nie, maar aartappelskyfies. Ja die heimweё sit diep, maar ook die dankbaarheid.
Almal se stories is nie eenders nie, myne is aanvanklik vol onskuld en beskermde grootword. Selfs my skooljare was vreugdevol en onskuldig. Respek vir die lewe, en respek en waardering vir andere het ons van kleins af geleer. As ek terugdink is dit met heimweё en opregte waardering, maar nie met woede, opstand of aggressie nie. Ek besef dat my ouers van harte omgegee het, hul beste gedoen het vir my en my broers en susters. Ja, ons het nie alles gehad wat oop en toemaak nie maar ons het van alles genoeg gehad. Die lewe het egter nie hier begin en ge-eindig nie. Die storie van ons lewens begin maar net daar in diue kinderjare. My ouers is intussen oorlede, en ekself is nie meer bloedjonk nie. My eie kinders is volwassenes en ons is deur verskeie krisisse.
Ek beleef iets dieper in my eie storie en dit is die teenwoordigheid van God. My storie is deel van 'n groter storie, van God se storie met ons as mense en wêreld. Dit is Hy wat my help om die pen van die lewe vas te hou, en nie in moeilike oomblikke te laat val of in opstand te skryf nie. Dit is Hy wat die troos en krag gee om afskeid te neem van hulle wat kosbaar deel van jou lewe is en was, en uit te sien na 'n ewige en volmaakte toekoms. Dit is Hy wat hoop gee as andere rondom in woorde skryf wat ontmoedigend en neerdrukkend is. Dit is Hy wat die vermoё gee om die verlede en die hede te verreken.
In my eie verlede lê mooi en hartseer dinge, daar lê dinge waarop ek nederig trots is, maar ook dinge waaroor ek skaam is. Paulus vertel dat hy vergeet van dit wat agter is en hom uitstrek na wat voor is.(Filippense 3) Ook sy verlede is onmiskenbaar daar, tog hou dit hom nie in sy hede vas nie. Vir my is dit 'n belangrike rigtingwyser. Die verlede het kosbare momente, momente van vreugde en sukses, maar ook van mislukking en hartseer, van sonde begaan. Tog hoef nie die mooi van gister sowel as die lyding en seer van gister my nie vandag te kniehalter nie. In Jesus Christus kan ek steeds in geloof en vreugde skryf aan die storie van my lewe onder die Gees se leiding....'n heel storie kan jy in elk geval nie sonder die Here skryf nie!
Dit is my oortuiging dat dit goed is om op die paaie van gister te gaan stap en die heimweё te beleef, maar terselfdertyd te verstaan dat gister en vandag nie die einde van die pad is nie, ons storie is steeds besig om plaas te vind, ons verhale is steeds in die proses om geskryf te word, en dit is deel van 'n veel groter storie. Ek meen dit is ons roeping om nie in gister vas te val nie, maar vanuit gister na môre te beweeg, en dit kan ons net werklik in Jesus Christus. Sou dit dus wees dat momente in die storie van gister my steeds opstandig, woedend of bitter maak, of intens hartseer dan is dit nodig om daardie momente na die Here toe te neem, en na alle waarskynlikheid vra dit dat iemand wat 'n negatiewe seermakende rol gespeel het vergewe moet word. Wie vashou aan die verlede bly 'n slaaf daarvan. Om die beste van nou en môre te beleef, moet jy vrede hê met die storie van gister en eergister. Ek glo dat die beste nog voorlê...God se beloftewoord staan immers vas. Leef dus voluit....
Filppense 3:12-14 "Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus."