Sunday, June 20, 2010

Vadersdag by Doringbaai


Mense het vertel dat daar by Doringbaai 'n heerlike eetplek(restaurant) is. Dit kan ek vandag bevestig as die waarheid. Ons het daar heerlike seekos geniet, en by alles as 'n mens  die see kan sien maak dit alles sommer net nog lekkerder. Die bediening het wel veel te wense oorgelaat, geduld en innerlike vrede is nodig. Hoe ookal sy, ek wou 'n paar fotos van die omgewing neem. So ry ek af na waar ek bakkies sien lê by die hawegebied. 'n Paar manne staan daar rond by 'n plek wat lyk asof vis van tyd tot tyd daar skoongemaak is. Ek sien 'n paar kaste bier  staan en ook 'n bottel soetwyn of twee. Na my mening kan hul meer as 'n rugbyspan daarmee voorsien het.

Terwyl ek die kamera op die driepoot opstel staan van die manne nuuskierig nader. In hierdie wêreld praat 'n mens maklik met vreemdelinge, en word dit gemaklik aanvaar. Die omgewingsvriendelike persoon is ook besonder hulpvaardig oor waar ek goeie skote sal kry. Hy sal darem ook graag self wil sien as ek die opstelwerk klaar gedoen het. Ek hoor dat hy vir sy pêlle skree dat die driepoot jou werklikwaar met 'n "level' toegerus is.

Ek laat ewe gedwee toe dat hy deur die lens van die kamera kyk waar ek dit op 'n paat seevoёls fokus . Waarskynlik kom hier nie baie mense met kameras met lang lense nie, want die man is erg beindruk. Sy versoek is dat ek darem ook van hom en sy "pêlle" 'n foto of wat sal neem. Met so 'n kamera en lens is sy indruk dat die foto ook dadelik beskikbaar moet wees. Dit kos  'n bietjie verduidelik dat dit nie so 'n eenvoudige proses is nie, maar ek sal dit stuur. Met die gefotonemery word die bier die een na die ander gedrink. Een van die vrinne se praat is nie meer so duidelik nie. Sy staan is egter nog vas. Ek aanvaar dus dat hy nog 'n bottel se nek sal knak voor die mis heeltemal oor die sig toesak. So sê die manne:" Ek moet maar verskoon, dit is immers Vadersdag...hul kuier net so 'n bietjie. "Dit is toe dat Ounooi skerpsinnig vra: "Nou waar is die kinders dan?"

Moet Vadersdag dan nie as dit werklik iets beteken,  iets sê van verhoudinge van liefde en omgee nie, of is  vaderskap dalk so verswarend dat 'n mens eenkant saam met nog vaders jou onttrek. Kan vaderskap so erg wees dat jy doelbewus wil vergeet dat jy pa is en geroepe is om lief te hê en te begelei en te versorg. Natuurlik,  vadersdag vertel  iets van 'n dankbaarheid teenoor pa's, maar pa kan jy nie eenkant en op jou eie wees nie? Leef ons nie juis  in tye dat daar soveel kinders is wat smag om werklik liefdevolle, betrokke "pa's" te hê nie, vaders wat van harte omgee vir  lewensmaat en kinders, meer  as vir homself.
Moet Vadersdag nie eintlik iets vertel van 'n Almagtige Vader wat nie Sy kinders begeef of verlaat of in die skande steek nie! Moet Hy nie ons voorbeeld wees van ware Vaderskap nie?  (Romeine 8: 31vv//Matteus 6: 9vv//Matteus 7: 7-12)

Gebed:
Dankie God onse Vader dat U werklik my/ons Vader is. Dankie Here dat U U nie onttrek het toe ons moeilik geraak en koers verloor het nie.
Dankie tog dat U vir my/ons verantwoordelikheid neem selfs al laat ons onsself soms in die steek.
Dankiie dat U selfs U eie Seun nie gespaar het nie, maar oorgelewer het om ons almal te red!
Dankie U diepste begeerte vir ons is dat nie een van ons verlore sal gaan nie!
Dankie dat U alles gegee het om my/ons vry te maak.
Dankie dat ek/ons altyd in U gedagtes is, en dat U begaan is oor my/ons.
Dankie Vader vir alle ma's en pa's wat in hul lewe iets deurgegee het en dalk steeds besig is ......van U ware liefde en omgee.
Dankie Vader vir my aardse ma en pa, vir wat ek/ons by hulle kon leer.
Dankie dat hul veilig by U is.
Wees asseblief genadig oor elke kindjie met 'n seer hart, kinders met afwesige ouers, kinders wat in die steek gelaat word, kinders smagtend na liefde en warmte.
Wees asseblief genadig oor ma's en pa's wat hul roeping nie verstaan nie,.....
net maar in Jesus se naam!
Amen

No comments:

Post a Comment