Ek wonder of alle kinders die vermoё het om soos Amber(kleinkind) te sien. Ons ry verby wingerde en sy sien die onderskeid in kleur tussen die netjiese blokke en rye wingerd. Tussen die verskillende variёteite is daar verskil in kleur, maar ook tussen die jonger en ouer wingerd ens. Dikwels word oupa ingelig oor die seekoei of olifant of voёl wat uitgebeeld word in die wolkemassas. Streng moet hy dan verklaar dat sy liewers moet vertel wat sy sien, want hy beter die verkeer en pad dophou. Dit is wonderlik as iemand dieper kan sien, meer as net die oppervlak. So kuier ons by Strandfontein en gaan kyk weer 'n maal na "die hel". Die hel is die benaming wat spesifieke rotse aandui wat hoog uitsteeek en waaroor die branders wild breek. Hier het 'n paar mense al hul lewe verloor.
Skielik is dit ouma en kleinkind wat anders na die rotse kyk en 'n dolfyn raaksien, asook 'n vrou wat op haar rug lê. Oupa kyk ook, maar die hoek is verkeerd en hy sien nie dieselfde nie. Eers later toe die foto's afgelaai is, sien hy ook. Die meisie mis hy(oupa) egter, want hy is oor vyftig! By die familie ontdek ons opnuut dat wanneer verskillende mense na dieselfde prentjies kyk hul nie noodwendig dieselfde sien nie. Die vrou wat op haar rug lê word deur sommige as 'n "gorilla" aangedui. Hopelik is dit nie 'n profesie oor wat met die vrou deur die lewe gebeur nie, aanvanklik pragtig en diep-denkend en dan 'n "gorilla" wat met mag en gesag wil beheers. Ons besef verwonderd dat ons dikwels by dieselfde rotse stilgehou het en nou vir die eerste keer hierdie interessante prentjies raaksien.
Dit is die moeite werd om weer te luister en weer te kyk, dieper te kyk.
Wat kan dit wees? Is 'n mens te gejaag om dieper te sien? Of, is die mens dalk tog maar geneig om net die voor-die-hand-liggende te sien?
Is dit nie dalk wat soms gebeur in die luister en bepeinsing van die Skrif nie? Hoor en sien ons nie maar net gedeeltelik wat God bekend maak nie? Dit is my oortuiging dat God ons tot veel dieper insig en ontdekking wil lei as ons net 'n oomblik tot stilstand wil kom, en dit dank dikwels!
Hoe wonderlik moes die ervaring nie gewees het van die digter van Psalm 8 en 19 nie. "
Psalm 8:2-3: "Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het."
Psalm 19:1-4 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander 'n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.
Sou 'n mens dus nie kon sê dat Dawid dieper nagedink het en meer ingesien het
as die gemiddelde mens nie? Mag die Here ons help om in die Skepping meer
raak te sien en Hom in Sy handewerk te leer ken, maar veral Sy geopenbaarde
Woord beter te verstaan en te ken!
No comments:
Post a Comment