Skoonsuster moet vir ondersoeke gaan. So ry ons Kaap toe. Langs die pad word heelwat fotos geneem,.... die omgewing is immers mooi. Die hoek waarteen die son skyn laat ongelooflike mooi tonele ontstaan om riviere en damme. Die weerkaatsings van bome, voёls en selfs geboue op die water is prentjiemooi. Ongelukkig leen die pad hom nie daartoe om stil te hou en fotos te neem net waar jy wil nie. Plek-plek is die soom van die pad nie eers groot genoeg vir 'n fiets nie.
By die Piekenierskloofpas vra ek die res van die geselskap dat ons tog by die padstal sal stilhou. Ek kon die naam nie meer onthou nie, maar het die paar keer wat ek die geleentheid gehad het hier gestop en dan vir my ma konfyt gekoop, veral tamatiekonfyt. Die Padstal is 'n verrassing. Dit is meer as 'n Padstal, 'n restaurant. Die naam is al die tyd: " Kardoesie." Ek kry die tamatiekonfyt en wil betaal, maar sien dan pasteitjies wat anders vertoon as die normale winkelpasteie. "Ja", sê die meisie "dit is tuisgebak." " Oom sê sy, ek waarborg dat hierdie pasteie ongelooflik lekker is...as oom nie net tevrede is nie neem ek dit op my om dit terug te neem." So moet 'n mond mos praat, dat jou hart in jou produk is. En as die meisie nog so mooi is ook kan die oom nie anders as om dit te koop nie.
Met versigtigheid word twee skaapvleis- en een wildsvleispastei gekies. Sy maak dit net warm genoeg dat dit nie opnuut gebak word nie. Soveel van lekker het ek lanklaas in die vorm van 'n pastei beleef, suiwer vleis, nie vol gestop met allerhande goed wat die spysvertering skade aandoen nie! Die meisie se woord staan vas. Sy het gesê dit is ordentlike suiwer vleis pasteie, ... so is dit! Egtheid, opregtheid,eerlikheid en suiwerheid is woorde wat 'n dieper kwaliteit aandui in die menslike karakter. Dit vertel van 'n innerlike kwaliteit......soos die pasteie, en soos hierdie meisie.
Ek wonder of dit nie dan tog ook is wat die Skrif van ons vra nie. Ek verbeel my tog dat die Here êrens gevra het dat 'n Christen se woord moet vasstaan, sy "ja" moet "ja" wees en sy "nee" moet "nee" wees. Ek onthou ook van 'n goeie boom en 'n slegte boom. ( Matteus 12:33-37) Die meisie se sprankelende opregtheid en eerlikheid het my opgeval, en so ook die egtheid van die pasteitjie. Sal dit dan nou nie lekker wees as dit is wat jy vind in elke Christen egtheid, opregtheid, eerlikheid, suiwerheid is nie!
By "Kardoesie" hoef jy nie teleugesteld te wees nie. Teleurstelling is nooit lekker nie, maar die Bybel vertel ons dat ons nie teleurgesteld sal staan nie. God se Woord is eg en waar. Dit staan ewig vas. Ons sal vir seker nie ontnugter wees nie, maar verras en ewig vol vreugde. ( Romeine 10)
No comments:
Post a Comment