Ek kyk uit oor die see tussen huise deur. Die sig is goed genoeg vanoggend en 'n mens kan die branders ver sien breek. Die afgelope paar dae was die wind knaend en sterk. Dit het 'n groot effek gehad op die see. Die branders was hoog en wanneer dit breek was dit asof die sproei soos die maanhare op 'n perd se nek orent wip. Dit is indrukwekkend om te sien. Die wind was nie net hier teen die kus aktief nie, maar 'n groot deel van die pad hierheen moes 'n mens omtrent stuurwiel vashou om nie te land presies daar waar die wind jou wil heenwaai nie. Vanoggend waai die wind steeds maar dit is kalmer. Op die koorsteen sit twee "Indian Minors". Dit lyk asof hul 'n aanpassing ondergaan het hier aan die Weskus en nie so groot is as die van Natal nie, .....dalk is hul maar net jonk. Dit lyk asof die een wil skuil agter die skoorsteen teen die wind.
Ek dink daaraan dat God ongelooflik groot is. Hierdie klein venster op 'n stukkie van die kuslyn is deel van 'n veel groter werklikheid. Die see, branders wat breek en my so fassineer is maar klein deel van die groot geskape werklikheid. Ek besef diep in my dat dit nodig is dat 'n mens eintik dikwels so tot stilstand moet kom, dat jy net sit waarneem, en luister. In die luister hoor ek die woorde van Jakobus oor die wind en die waai van die branders dan hier en dan daar. Ons is welkom aldus Jakobus om met die Here te gesels oor die dinge van ons lewe, oor die vreugdes maar ook oor die lyding wat verduur word, en om wysheid te soek. Daar is natuurlik geen beter plek om te soek as by Hom wat die grooste werklikheid so fyn inmekaar gesit het nie.
Jakobus meen dat 'n mens met vrymoedigheid tot God mag toetree. God sal antwoord, gee sonder voorbehoud of verwyt, wyshed, insig, onderskeidingsvermoё. Al wat nodig is, is geloof. Hy wat in die gebed vra en by God soek, moet glo dat God ook verhoor, anders is dit soos die branders van die see wat dan hier en dan daar gewaai word, sonder vaste koers en rigting. Iemand wat nie glo nie moet dan eintlik nie verwag dat God hom of haar sal verhoor nie. So 'n gebed is as't ware leeg....sonder hoop dat God uitkoms of wysheid sal gee...! Ek kan van waar ek sit sien hoe sommige branders links hou, ander regs en nog ander oorkruis......dit laat my iets verstaan van wat Jakobus lank terug geskryf het, en steeds geldig is.
Ek wonder oor so baie gebede wat gebid word, maar sonder enige werklike vertroue in God. God word eintlik nie toegelaat om iets daaromtrent te doen nie, want as daar klaar gebid is, is dit waaroor gebid is, al weer my eie lot ......'n Mens wil so graag alles self doen, en self in beheer wees, en self eie oplossings bedink. Natuurlik is daar baie dinge wat ons kan doen en bedink deur die wonderlike genade van God. Daar is egter dinge waaraan ons selfs met die gawes wat God aan ons gegee het niks kan doen nie. Ons kan lyding nie op die pad verhinder nie.....God alleen kan ons help om dit te verduur. In die proses van lyding en droefheid kan ons selfs groei en blymoedig wees omdat ons weet God is daar. Ons weet immers dat as dit ons pad kruis, God ons nie in die steek sal laat nie, maar ook daarin sal koester. Geloof is nodig om te ontvang wat God belowe het. Kyk na die branders, voel die wind en besef dat gebed sonder geloof leeg is. Hoor tegelyketyd die uitnodiging om om met vrymoedigheid tot God te gaan, en dat Hy sal gee sonder verwyte..... as dit net maar in geloof op Hom gerig word. Ja, natuurlik nie roekeloos en selfsugtig nie, maar versugtinge diep uit die hart in lyn met die skrif: Nader tot God en Hy sal tot julle nader....(Jakobus 4:8) "As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan Hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.Maar 'n mens moet gelowig bid......"
(Jakobus 1:5-6)