Sunday, July 18, 2010

UIT DIE PASTORIE: Nuusbrief - Junie 2010 (Volume 19)


Hy is meesal op sy pos, bo-op die kartondoos. Sy lyf en voete maak dat die kartondose nie te aangenaam voorkom nie, so ietwat bruin modderig gevlek . Ongelukkig kan hy dit nie verhelp nie. Iemand moet hom immers bad, en dan neem dit ook weer nie lank om netmooitjies weer soos voorheen te lyk en te ruik nie. Hy is 'n spesiale uitgawe waarvoor hyself nie verantwoordelikheid kan neem nie. Sy pa is immers 'n steekbaard en sy ma 'n worshond. Sy voorkoms is uniek.
Hy hou daarvan dat die kartondose hoog opmekaar gestapel is, maar darem op so 'n manier dat hy met die selfgemaakte trappies tot bo kan klim. Vanuit hierdie wagpos bespied hy die area waarvoor hy verantwoordelik is. Soms lê hy natuurlik net en slaap want dit is wat honde doen. Tog is daar 'n verskil, niks ontgaan hom nie. Hy is voorwaar 'n op-en-wakker hond, 'n beter deurklokkie kan jy nêrens kry nie. As daar die geringste rede is om 'n aankondiging van 'n besoeker te maak laat hy nie op hom wag nie. Hy sou verneder wees net by die gedagte dat mense kan dink dat hy net aankondigings maak. Nee, sy rol is veel groter. As daar enige rede tot onrustigheid is, selfs gevaar sal hy waarsku en dit doen hy met erns. As die bure se honde aan die gang kom, is dit hulle saak, want sy familie kom eerste. Sy lewensroeping neem hy ernstig op.

Natuurlik sou hy verskonings kon aanbied, sy bene is te kort om 'n noemenswaardige verskil te maak, sy liggaamsgrote en kleur maak dat sommige hom dalk nie eers raaksien nie en hom nie ernstig neem nie. Daar word gepraat van 'n "hy" maar eintlik is hy 'n "dit" daarvoor het die veearts gesorg. Wat 'n erge vernederig om te verwerk, 'n goeie rede om op te gee, tog nie!

Vir sy tekortkominge maak hy op deur 'n soort blaf wat 'n boodskap dra....daar is gevaar, daar is 'n besoeker, daar is 'n insek wat pla, of 'n padda wat sy terrein wil inneem, daar is 'n familielid by die deur, ens. Hy ken sy "customers". "Sassy" is die naam, dit het sy speelmaat en grootnooi gegee. Al is dit erg vroulik het hy dit aanvaar, solank hul net nie pienk goed aan sy lyf trek nie. Met die koue en als dra hy geredelik die klere wat aangetrek word, maar sommige mag nie oor sy lyf nie, want die kleur, o' die kleur is nie reg nie! Met die koue so hoog op die kartondoos ("boks" vir diegene wat nie uit die Kaap is nie) is so 'n lyfkombersie darem 'n aanwins en kan hy met warmte en dapperheid sy roeping vervul om waaksaam te wees, om aan te kondig, om te waarsku, om vriend te wees, ja seker vriendin ook!

Kan dit dan so moeilik wees om die beste "jy" te wees. Al is jy nou nie perfek gebou en superslim, ongelooflik prakties of kunstig nie, God het ons gewil! As "Sassy" tevrede is en op die uitkyk dag en nag, die beste maak van wat hy is, kan ons dan nie ook tevrede wees met God se roeping en pad met ons nie. Kan ons nie dan 'n vergenoegdheid met die lewe ervaar in God se teenwoordigheid nie? Ons is immers nog meer uniek, nog meer spesiaal in mekaar gesit! Waartoe is ons geroep... dalk iets soortgelyk? Sou ons nie ook dag en nag op die uitkyk wees vir dit wat goed is, wat geniet mag word, maar ook waaksaam wees met betrekking tot dit wat nie goed is nie. Sou ons nie in afwagting verkeer op die Here ons God nie. Sou ons nie dalk dag en nag ingestel wees op Sy koms nie, en sou ons lewens nie dalk by so 'n lewe in afwagting aangepas wees nie? Het die Vader in Sy genade dan nie Sy Gees gestuur om ons in hierdie roepingsvervulling by te staan, om mens te wees tot Sy eer nie?

'n Groot deel van Sassy se bestaan is om te wag op sy familie, sy grootnooi en op enige stukkie vriendskap en bietjie meelewing. Wil die Here nie dalk hê dat ons ook met soveel lojailteit op Hom ons Heer ingestel is nie? Psalm 130:5-8 lui as volg: "Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes." Ja, dit is 'n bedevaartslied en bevestig die Here se vergifnis vir sondaars. Dit gee hoop want soms maak sondes, siektes en ellendes, gebeurlikhede dat 'n mens voel of jy in 'n gat verkeer. Juis hierom roep die digter tot die Here om hom in sy verlatenheid te help.

Destyds was daar wagte op die mure van die stad om te waak oor die stad en sy mense, op die uitkyk vir vriend en vyand. Die môrelig was waarskynlik 'n welkome gesig, 'n soort verligting ons is veilig. So moet ons op die Here wag in ons lewens.....Hy gee lig na donker...Vertrou hom met jou diepste nood. Onthou.. Hy het Sy Seun gegee....en onthou, Hy gee die ewige lewe....Hy verhoor ons diepste nood....Hy het ons bevry uit ons sonde.....Hy kom weer! Hy maak dit moontlik om dag na dag op jou pos te wees, en om wakker en waaksaam die lewe te geniet! In vertroue op Hom kan ek en jy die beste wees waartoe Hy ons in staat stel. Wag op die Here, meer as wagte op die môre....." Leer by Sassy....dit is lekker...dit bring vreugde!

Groete van huis tot huis!

No comments:

Post a Comment