Paasfees, die opstanding, hemelvaart en pinkster... Wat 'n spesiale tyd van die jaar vir ons as Christen-gelowiges. Ou begrippe wat nuut word elke keer wanneer mens dit beleef en daarop fokus. In plaas daarvan om artikels oor die onderwerpe te skryf het ons besluit om vir van ons gemeentelede kans te gee om te getuig van wat dit vir hulle beteken het.
Pinkster is die jaar weer in beide St Lucia en Mtubatuba aangebied. God het weer deur Ds Frank soveel van ons spesiaal aangeraak deur sy praktiese boodskappe.
Nelia skryf...
Ons eie "Pappa Beer"
Ds Frank het die mooiste Pinksterdienste aangebied. Die een storie van die Baba Beer wat bedreig was deur 'n bergleeu, was vir my so besonders. Die baba beer wat probeer om sy eie "battle te fight" en die bergleeu wat dan omdraai en wegloop en intussen is dit die Grote Pappa Beer wat al die tyd agter die baba beer gestaan het wat so groot en magtig gelyk het, wat eintlik die bergleeu afgeskrik het.
Ek sien die bergleeu as al ons elke dag se probleme, hartseer, onsekerheid, ongelukkigheid en niks wat wil uitwerk nie. Ons (die baba beer) probeer om die probleme (bergleeu) self uit te sorteer op ons eie manier en dit wil nie altyd werk soos ons dit wil hê nie, en dan op 'n dag begin als net in plek val, probleme word opgelos, hartseer word minder, onsekerhede verdwyn, ongelukkigheid opgelos, en dan as jy eendag omdraai uit verligting – "Dankie tog die "bergleeu" is weg! sien jy dit is die Almagtige Pappa wat al die tyd agter ons gestaan het en al die probleme wegjaag en als beter maak en dit alles nie omdat hy moet nie, maar omdat Hy omgee vir ons en LIEF is vir ons want Hy is mos ons PAPPA!
Hoe kan ons dan nie elke dag DANKIE sê nie?
Dankie Ds Frank vir sulke wonderlike preke.
Anette sê…
Ons is sowaar bevoorreg om `n leraar te hê wat sulke spesiale preke lewer. Elke Sondag raak hy elkeen in die kerk aan – dit is asof hy presies weet wat elkeen se behoefte is.
Sy preke is altyd gekoppel aan vandag se lewe en `n mens kan so maklik daarmee identifiseer. Die Here se Woord verkondig hy met soveel kennis en begrip dat almal geestelik verryk word.
Sy "stories van die lewe" is so interresant dat jonk en oud in spanning daarvoor wag.
Die Pinksterdienste vanjaar was uitsonderlik. Ja-nee ons ds Frank is een in `n miljoen!
Jannie en Gerda het ook gesê dat die pinksterdienste vir hulle in die besonder baie beteken het en opgemerk dat dit interessant is hoe elkeen op 'n ander manier en deur 'n ander aspek aangeraak word.
Dit is vir my so besonders van ds Frank – dat hy deur Vader se genade en seën dit regkry om week na week vir elkeen van ons 'n boodskap te bring. Party keer so spesiaal dat dit voel asof hy binne ons harte kon kyk en ons diepste behoeftes en worstelinge kon raaksien.
Lelanie skryf...
Die Pinkster Dienste was soos altyd vir my 'n ware inspirasie maar hierdie spesifieke aand ook 'n teregwysing oor SELFBEHEERSING!
Die dag het soos altyd begin maar dit was nie hoelank nie toe begin dinge verkeerd loop en moet almal dit ontgeld. Natuurlik is niks my skuld nie en ek verander in 'n ware ou suurknol en brompot.
Die laaste strooitjie was egter toe die winkel assistente teen vyf-uur by die deur inloop en ewe terloops meld dat sy die winkelsleutel in die deur afgebreek het, maar dat sy nie nou tyd het om haar daaroor te bekommer nie -anders is sy laat vir haar saamry geleentheid. Ek het behoorlik ontplof en my totaal en al ge"strip" – soos ons sê!
Om die storie kort te maak – ek het met moeite en drama die Pinkster diens net-net gemaak. Toe ek op my stoel gaan sit, het ek nogsteeds gekook. Dit was nie lank nie of Dominee se woorde het begin om behoorlik tot my deur te dring en ek het al skamer en slegter begin voel. Alles was so onnodig, wat het ek nou eintlik bereik met my uitbarsting? Tervredenheid vir myself, maar het dit gehelp? Daar en dan het ek weer besef hoe wonderbaarlik God se weë werk – hierdie Pinksterboodskap was spesiaal vir mý bedoel.
Dae daarna vang ek myself dat ek steeds aan dié spesiale boodskap dink en dan voel ek weer van vooraf skaam oor my onnodige optrede en uitbarstings. 'n Duur les wat ek geleer het maar Dankie aan ons Hemelse Vader wat my weereens met sy groot liefde op die regte pad teruggeplaas het – SELFBEHEERSING!
No comments:
Post a Comment