Sunday, July 18, 2010

PLAASBEDIENING: Nuusbrief - Junie 2010 (Volume 19)


Michael Zikhale het op versoek van 'n boer in die gemeenskap begin met 'n plaasbediening in die Monzi-omgewing. Ons kerk ondersteun hom in hierdie werk en daarom wil ons graag terugvoer hieroor aan die gemeente gee.
Michael doen vriendskapsbediening waar hy met plaaswerkers die woord van God deel. Wanneer hulle belangstelling toon "verkoop" hy bybels aan hulle vir R10. Hierdie bybels word deur ons gemeente geskenk. Die bybels word verkoop sodat hulle verantwoordelikheid daarvoor sal vat.
Hy is op die oomblik besig om twee Mosambiekse werkers te katkiseer asook twee vroue, wat graag hulle kinders deur hom wil doop, te onderrig in die verlossingsleer.
Hy is positief oor die werk maar vind dit moeilik om genoeg kwaliteit tyd saam met die werkers te hê om rede vervoer 'n groot probleem is. Hy is afhanklik van publieke vervoer en omdat dit nie in die aande beskikbaar is nie en die werkers in die dag werk gaan waardevolle geleenthede verlore waarin hy vir hulle die liefdesboodskap van 'n God wat omgee kon bring.
Die grootste behoefte wat Michael op die oomblik het is vervoer. Dit sal wonderlik wees as ons as gemeente kan saamwerk om hom met hierdie probleem te help. Die boer op wie se plaas hy werk sal gratis aan hom diesel verskaf. Die paaie is egter van so 'n aard dat hy 'n bakkie nodig het.
Verder is daar ook 'n behoefte om videos, wat ons reeds beskikbaar het, in DVD formaat om te skakel.
Indien enige iemand met enige van die twee aspekte kan help kan julle die kerkkantoor skakel.

No comments:

Post a Comment