Ek wens soms ek het meer tyd aan plantkunde spandeer met die bedoeling natuurlik om meer te weet van die verskillende soorte plante, gewasse, struike en bome. Dit is opvallend hoedat plantegroei verander soos 'n mens daar van ons geweste(Natal) hier na die Weskus ry. Die Karoo en Sandveld met 'n laer reёnval laat nie enige soort plant toe om wortel te skiet en te groei nie. Die son, en wind en min water is net een te veel. Tog is daar orals plante wat groei. Hier van Lutzville se kant na Strandfontein is die bossies kleiner, 'n mens sien hier en daar bloekombome, maar origens is dit melkbosse en vygieplante, 'n tipe gras en ander vetplante.
Soos ons ry sien ek die geel blommetjies van suring. As kind was dit vir ons lekker om daaraan te loop en kou. Daar was ook so 'n pers blommetjie wat as jy dit op jou vel smeer, kon jy suringstingels gebruik om daarop te skryf. Die letters was dan pienk. Orals is die belofte sigbaar van blomme wat sal oopgaan as daar nog reёns kom. Die blomknoppies is reeds daar.
Ounooi, my lewensmaat merk op dat dit verrassend groen is. Skoonsuster(Elize) vertel dat dit tog gereёn het, en dat dit die omgewing groen gekleur het. Ounooi vertel vir Amber (kleinkind) dat sy nie sal glo hoe mooi hierdie wêreld kan word na goeie reёns nie. Die hele area word dan omskep in 'n lushof van kleur en geur van blomme. Eintlik as 'n mens mooi dink is so min nodig om hierdie transformasie te veroorsaak, ....net 'n klein bietjie water uit die Vader se hand! Dankbare bossies, dankbare plante voorwaar.
Ek hoor Paulus sê: "Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Filppense 4:12-13)" Paulus het geleer om vergenoeg te wees te midde van watter omstandighede ookal, baie soos die plante van die Karoo en Sandveld. As daar oorvloed is word met ongekende vreugde en skoonheid gereageer. Wanneer die seёninge dalk nie so opvallend is nie, word met die genade en krag van God steeds volhardend dankbaar geleef.
Hoeveel het ons regtig nodig om gelukkig te leef en op ons mooiste voor God te wees? Mense is soms so gou ondankbaar. onvergenoeg en klaend te midde van die oorvloed. Dalk moet ons erken dat ons leef asof dit die baie is wat ons gelukkig maak. Sou dit nie help om dankbaar te aanvaar wat God jou vandag bied en Hom te vertrou vir môre nie. Ek wonder as ons vir 'n oomblik die plek van die plante moes inneem of die veld dan nog groen sou vertoon na die effense reёn. En as dit 'n bietjie meer reёn sou die veld dan werklik oortrek wees van die mooiste blomme.
Is dit nie juis ons rol om vir God ons Skepper mooi te wees nie. Het Hy dan nie alles oorvloediglik gegee om dit moontlik te maak nie? Wat meer sou God dan nog moes doen om ons vreugdevol, entoesiasties en vol lewensenergie te laat reageer. ( Vgl Romeine 8: 31-39) Ja, natuurlik is almal nie eenders nie en is daar die wat soos die veld dankbaar reageer, maar is dit waar van my en jou? Sou 'n mens nie ook iets moet leer verstaan dat daar seisoene is tot die lewe nie, dat die veld nie altyd blom nie, maar nogtans deur Gods krag en genade leef....ook in die droёr seisoen, en sou ons nie dalk moet onthou dat hierdie siesoene uitloop op ewige heerlikheid nie. Leef voluit.....immers is God se genade genoeg vir elke dag. Met wat God reeds gee kan ons elke dag die beste ek en jy wees....mooi tot eer van God en tot onderskraging van mekaar. 'n Mooi blommetjie in die veld is mooi, maar 'n mooi mens aangeraak deur God se Gees is nog mooier!
No comments:
Post a Comment